My vreugdes en frustrasies

Reis, Travel

Gatskuur en Vreet loop saam

Namaqualand (25.08.2010)

My man het ‘n manier om ‘n ding so raak te sê. So vertel hy nou eendag vir die buurvrou oor die draad:

“Nee, hierdie jaar bly ek by die huis, ek gaan nie elke jaar saam met my gesin vakansie hou nie, want my idee van vakansie en hulle s’n stem nie ooreen nie. My vrou en kinders wil mos heeldag gaan gatskuur, nie om die wêreld te leer ken nie, ook nie om nuwe avonture te gaan beleef nie, maar om te gaan vreet op vreemde plekke. Hulle beplan hulle hele vakansie op die internet om seker te maak waar al die eetplekke is en watter soort kos beskikbaar is, nog voordat hulle begin inpak.

Hulle pak kastig almal hierdie moerse duur kameras en lense en goete in waarmee hulle ver kan sien en baie fotos kan neem, maar nou sê ek vir jou, wanneer ons by die huis kom, is daar net fotos van borde vol kos. Ek sweer, hulle gaan besoek ‘n museum net om te sien wat het die oermense geëet voor die dae van steak ranches en fast food joints, van die geskiedenis wat die museum uitbeeld, onthou hulle geen snars nie.

Op reis sien hulle niks van die landskap om hulle nie, al wat hulle raaksien is die Coca-Cola borde langs pad. Hulle wil afdraai by elke padstalletjie, die kar lê vol eetgoed en dan sit hulle en wonder waar en wat hulle sal eet by ons bestemming.

Jy sal my nie glo nie Buurvrou, maar hier reis ons nou laasweek ‘n dag lank om in Margate te kom en nog voordat ons die vakansie woonsel kan haal, toe sien een van hulle ‘n Wimpy raak. Allie pad oor berge en dale gevlieg, langs die kus afgery waar die see blou en die branders wit lê, net om liries te raak oor ‘n hamburger en tjips wat hulle sommer hier in ons dorp kon gevreet het.”

Nou, ek wil nou nie staan en nonsense praat nie, maar dit kan darem seker nie heeltemal waar wees nie. My rys-vleis-en-aartappels man verstaan net nie die skoonheid, die waarheid en die lekkerte wat kleef aan ‘n vakansie-herinnering waar daar ‘n heerlike bord kos by betrokke was nie. Buitendien, ons het baie mooi fotos om dit te bewys dat ons die wêreld rondom ons ook sien en waardeer.

So hierdie blog is vir my man, om hom te herinner aan al die mooi plekke wat ons besoek, die lekker ontspanning en die saamwees wat hy gaan mis as hy liewer by die huis wil bly om met Buurvrou oor die draad te lê en skinder. Ek gaan ‘n paar fotos oplaai en ‘n paar stories vertel wat hom sal laat watertand, of miskien is ‘watertand’ nou nie presies die regte woordkeuse hier nie – jy weet wat ek bedoel.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

2 Comments

  1. Ek reis dikwels saam met my suster. Sy is baie lief vir gatskuur en sal nie twee keer dink om op ‘n vliegtuig te spring om by my te kom aansluit waar ek vir werk is nie. Maar, ons idee van vakansie verskil heeltemal. Sy wil iewers heen gaan om te slaap en ek wil gaan foto’s neem.

    Die eerste keer wat ons in die Kaap gaan vakansie hou het, was haar hoogtepunt ‘n bord Kerrie. Grap is dat dit nie eers haar bord Kerrie was nie.

    • HesterLeyNel

      Daai kerriespul klink na ‘n storie wat jy moet vertel.